Grensgeval deur Marita van der Vyver

Saturday, September 19, 2020


 Titel: Grensgeval
Skrywer: Marita van der Vyver
Publikasie: 2019 (Penguin)
Bladsye: 293
Formaat: Sagtebank
Beveel aan: As jy van Marita van der Vyver hou en weet hoe sy toor met woorde en stories - verseker ja. Moenie 'n oorlogstorie of reisjoernaal verwag nie.
My Gradering: 
Kort opsomming: Die brief wat Theresa tussen haar eksman Theo se besittings ná sy dood ontdek, skeur haar lewe oop. Jare lank het sy haar rug op Theo gedraai, ’n man wat sy laaste twee dekades in ’n inrigting moes deurbring. Só ook het sy die land se verlede weggestoot, die tyd toe tienerseuns gestuur is om aan die grens te veg – ’n plek en ’n oorlog waarvan mense tuis bitter min geweet het. Vir Theresa self was dit ’n tydperk van eerste liefdes, disko’s en vakansies by die see.
Theresa besef gou die brief is deur ’n Kubaanse soldaat aan sy kind geskryf – iemand wat, indien hy of sy nog leef, nou minstens veertig jaar oud sal wees. Theresa weet in haar siel sy moet Kuba toe: om die soldaat se kind te soek, om die brief te besorg, om boete te doen vir Theo se dade en vir haar eie onkunde.
In swoel, afgeleefde Kuba, tussen kleurryke motors uit die vyftigerjare en geurige sigaarrook, word Theresa se soektog intiem vervleg met die lewens van mense wat in Angola as “die vyand” gebrandmerk is. Só ontrafel sy wat dit beteken het om groot te word in die Suid-Afrika van daardie tyd.
 




"Jy weet nie wat die werklike belangrike besluite in jou lewe is terwyl jy hulle neem nie. Eers later, wanneer jy terugkyk, besef jy dat alles anders sou uitgewerk het as jy daar anders besluit het."
Ek weet nie hoe geskik dit is om 'n boekresensie in brief-formaat te doen nie. Aangesien die hooftema van Grensgeval,  Angel se brief aan Mercedes is, voel ek ook sommer lus om 'n brief te skryf. 

Liewe Tannie Marita,

My naam is Mareli en ek het ook groot geword as 'n plattelandse muis waar ons geleer is om mense wat meer as 10 jaar ouer as jy is, as Oom en Tannie aan te spreek. As die "Tannie" dus onvanpas is, aanvaar tog maar dis vir ons Afrikaanse meisies van weleer 'n aanspreekvorm van respek. Om Tannie te jy en jou, sal net inperk hoeveel respek ek vir Tannie se skryfkuns het.

Ek was in Standard 9 toe Die Dinge van 'n Kind  gepubliseer is en wonder bo wonder, het my Ma my toegelaat om dit te lees. My streng Gereformeerde Pa het natuurlik fronsend toegekyk.  (Nou het Tannie sommer ook 'n idee hoe oud ek is).Daar het ek dus vir die eerste keer kennis gemaak met die Grensoorlog. Of beter gestel, eers regtig kennis gemaak met die realiteit van die grensoorlog en nie die komiese vermaak wat vir ons opgedis is in Boetie gaan Border toe nie. Ooooe ons het almal geswymel oor Arnold Vosloo. Ek doen dalk nogsteeds. Die man het darem nes 'n goeie rooiwyn, goed verouderd. 


Met die lees van Tannie se jongste boek, besef ek met 'n skok dat ek ek regtig absoluut niks weet van die oorlog op die grens nie. Watter grens? Okay, nou oordryf ek bietjie. Maar ook maar net effens. Presies soos in Tannie se boek, het ons almal net geluister na wat die Dominee, die onderwysers en ons ouers ons vertel het. In my geval, was dit 'n ronde nul. Die beste van alles, ek het Geskiedenis as vak gehad tot in Matriek. Ook in daardie sylabus is daar geen woord gesprook nie. 

In 'n kwessie van 'n week het ek baie gelees, baie bepeins en ure met my man gesels. Hy weet so bietjie meer as nul. Ek gaan my egter nie in hierdie skrywe uitlaat oor wat my gevoel nou oor die grensoorlog is nie. Want dan moet ek begin gesels oor waar ons land tans is ook. Ek is egter nie 'n vereerde skrywer of politieke joernalis of  iemand van belang dat daar enige ag geslaan sal word op my woorde nie. 

Mag ek maar eerder so paar sinne en frases uit Tannie se boek aanhaal en dit saam spoeg en plak?

"Hoop is soos vloeistof wat in 'n breekbare kruik gestoor word en hulle kruik het telkens in skerwe gespat...... En tog is die houer elke keer wonderbaarlik herstel, oor en oor gevul met persoonlike en politieke hoop, soos ook met die meeste van hulle medeburgers gebeur het. Al die skerwe weer aanmekaar geplak elke keer met meer krake as voorheen, die houer al hoe leliker. Maar skynbaar onvernietigbaar." (bl 169)

"Die onverdraagsaamheid tussen rasse en klasse is meer blatant as ooit tevore, die korrupsie van politieke leiers en die geldgierigheid van gewetenlose sakelui het alles besmet, die geweldige misdaad en die minagting van menselewens maak haar gereeld moedeloos. Al wat sy kan doen, is om daardie stukkende kruik van haar maar weer vol goeie voornemens te giet - en te hoop dat alles nie sal uitlek terwyl sy hierdie lydensweg saam met haar landgenote aflê nie." 
(bl 288)


Die reis Kuba toe was vir my heerlik. Ek het te lekker prentjies en plekke ge-Google en as ons land en my eie grense my ooit sal toelaat, sal ek wel die kleurryke eiland besoek. 

Tannie se boek het my diep geraak. Dalk juis oor my traak-my-nie-agtige houding heens die grensoorlog en wat dit werklik geverg het van ons land se jongmanne wat opgeroep is vir verpligte diensplig nie. Diensplig en oorlog is nie dieselfde ding nie. Nie al ons troepe was romantiese Troepie-Doepies nie en te veel van hulle het nooit Ruben Lennox se duisend liggies gesien om te wys iemand wag by die huis nie. 

Ek was self maar 'n blote kind toe ek Die dinge van 'n kind gelees het. Toe ek nog geglo het soos 'n kind, gehoop het soos 'n kind en gedink het soos 'n kind. Die slotwoorde in die boek bly my steeds by:

"En wie weet, miskien sal ons eendag, iewers in hierdie land, by mekaar verbystap, mekaar 'n oomblik in die oë kyk en vlugtig wonder: Waar het ek haar voorheen gesien? Iets omtrent haar lyk bekend. En dan sal iets ons aandag aflei en ons sal weer van mekaar vergeet.
En nooit weet dat ons 'n oomblik, sonder 'n raaisel, in 'n helder spieël gekyk het nie."

Meer as 20 jaar later is die dinge van 'n kind egter vêr agter ons en glo ek ook nie meer altyd in eindes nie. Gelukkig of te nie. Is dit blote toeval dat ek soorgelyke woorde as die bogenoemde aanhalings duskant die einde van Grensgeval raakloop?

"Sy het to dusver gedink sy gaan hom weer iewers sien, eendag, toevallig op straat of op die roltrappe van 'n winkelsentrum. Terwyl sy boontoe vervoer word, sal hy op pad wees ondertoe en sal hulle by mekaar verbygly en mekaar vir 'n oomblik in die oë kyk. Mekaar met 'n kopknik vergewe vir alles wat hulle aanmekaar gedoen het."
(En op die laaste bladsy)
"Die vyftienjarige Theresa Marais se dagboek is soos die foto van 'n spieël wat val, geneem in die breukdeel van 'n sekonde voordat dit die vloer tref en in ontelbare skerwe spat."

So moet ons almal seker groot word en ontnugter word. Vele van ons word ook maar 'n Grensgeval: Party grens oor alles (huil voortdurend), party grens aan waansin, party huiwer konstant op die grens tussen hoop en wanhoop. 

En dan skryf Tannie weer vir ons 'n boek. Daarop sal ons altyd hoop en altyd na uitsien.

Vriendelike groete,

Mareli Thalwitzer 



From 1966 to 1989 The South African Defense Force (SADF) fought a war on the border between Angola and South West Africa (today known as Namibia). This 23 year conflict is today referred to as the Forgotten War. The 'Kaplyn' (cutline) was a thin strip of land cleared of any growth. This was the border. During this period every single white South African son was forced, through the Conscript System, to serve at first, one, then later two years as soon as they left school. A total of 715 South African Soldiers gave their lives to protect their country.

This book is available in English under the title Borderline .


Mareli










4 comments

  1. My husband has talked about how he chose to work at the post office/telecom rather than go to the border war. This has shaped his career even until now.

    ReplyDelete
    Replies
    1. How amazing Marg. The paths we take in life....

      Delete
  2. Ok, hopelik vertaal dit in orde! In die eerste plek is ek lief vir hoe jy jou resensie geskryf het. Tweedens besef ek hoe min ek van jou pragtige deel van die wêreld weet, soveel het gegaan oor wat ons nooit hoor nie. Hierdie boek klink of dit vir 'n lang tyd by jou sal bly nadat jy gelees het. Dankie dat jy jou resensie deel.

    ReplyDelete

We love hearing from you and if you talk to me, I'll purr back as soon as possible. Sometimes I take a cat nap and it might take a couple of hours or days, but never fear - the cat always comes back.